Duitsland het die week sy eerste besending Leopard 2-oorlogtenks na die Oekraine gestuur. Agttien oorlogstenks is verskaf nadat soldate opgelei is om dit te kan gebruik. Boris Pistorius, Duitsland se minister van verdediging, het gesê hy is seker die tenks kan ‘n belangrike bydrae lewer tot die Oekraine offensief. Challenger 2-tenks van Brittanje is ook reeds afgelewer. Die BBC berig Oekraine het maande lank ‘n beroep gedoen vir meer moderne voertuie en wapentuig om te help in die oorlog. Sowat twee duisend Leopard2-tenks , wat beskou word as die beste oorlogtenks wat deur Navo-lande vervaardig word, word reeds in Europa gebruik. Duitsland het in Januarie ingestem om die tenks te verskaf nadat die land eers huiwerig was om dit te doen. Rusland het reeds belowe om tenks wat in westerse lande vervaardig word, te vernietig. ‘n Russiese maatskappy het twee en sewentig duisend dollar aangebied vir die eerste soldate wat die tenks vernietig.
