Kristalmetamfetamien – ter waarde van meer as R6 miljoen – is by die OR Tambo Internasionale Lughawe gevind – waar dit in ‘n hout snoekertafel versteek was.
IOL berig ‘n misdaadintelligensie-gedrewe operasie het gelei tot die ontdekking en konfiskering van die kristalmetamfetamien, wat volgens die polisie in ‘n hout snoekertafel gekry is wat vir uitvoer by ‘n pakhuis by die lughawe bestem was.
Nasionale polisiewoordvoerder, brigadier Athlenda Mathe, het in ‘n verklaring gesê die polisie het inligting opgevolg toe hulle die dwelms gevind het, wat na bewering vir Australië bestem was.
Mathe sê die polisie volg alle leidrade om die oorsprong van die dwelms in SA te bepaal, asook wie die besending vir uitvoer afgelewer het.
Geen inhegtenisnemings is gemaak nie, en ondersoeke duur voort.