Die skote het vroegoggend by Lourierpark in Bloemfontein begin klap, waar duisende onwettige grondbesetters hulself langs die Jagersfonteinpad vestig.
Terwyl die gronbesettingsituasie gemoedere sedert Saterdag hoog laat loop, is die spesifieke motief vir vanoggend se skietery nie in hierdie stadium bekend nie. Nog voordat die nuus oor vanoggend se skietery sosialemedia getref het, is talle waarskuwings via burgerlike beveiligingsgroepe uitgestuur. Daar word wyd verwag dat die spanning hier vandag gaan toeneem, aangesien die polisie en die munisipaliteit nou deur die hof verplig word om onwettige grondbesetters te verwyder.
Vandag is dag vier van die massiewe grondgrypingsaksie langs die Jagersfonteinpad aan die suidekant van Bloemfontein. Woonerwe is op ‘n reuse stuk munisipale eiendom uitgelê, en derduisende mense stroom sedert Saterdag hierheen om ‘n erf te bekom. Op dag een het ongeveer 3000 mense hulle reeds hier, digby die Lourierpark- en Pellissierwoongebiede, kom vestig.
Buitebande is deur die nag op die Jagersfonteinpad aan die brand gesteek, en luidens ooggetuies duur hierdie optrede vanoggend steeds voort. Mense word aangeraai om die omgewing ten alle koste te vermy. Die bande word glo deur inwoners van Lourierpaek en Pellissier gebrand, in ‘n poging om te keer dat nog voornemende grondbesetters toegang tot die area kan kry.
Intussen mag die polisiediens, asook die Mangaung-metro, nie ‘n oomblik langer die voete sleep met stappe teen onwettige grondbesetters op die munisipale grond wat aan Lourierpark in Bloemfontein grens nie. Die hooggeregshof het laat gistermiddag ‘n afdwingingsbevel van krag gemaak, waarvolgens daar onmiddellike optrede moet kom, aan die hand van Saterdag se uitsettingsbevel. Sekere mense is wel kragtens die uitsettingsbevel in hegtenis geneem, maar die Mangaung-metro se uitvoerende burgemeester, Gregory Nthatisi, het egter die grondbesetters, vir eers gerus gestel.