Lede van die EFF en Sanco skyn te beraadslaag oor wat die volgende stap moet wees, soos hulle in die suide van Bloemfontein opdaag, waar grondbesetting die gemeenskap op hulle hoede het.
Die twee groepe staan aan weerskante van die kruising by Curielaan en Pellissierrylaan, en loop kort-kort na mekaar toe, in dit wat na beraadslaging lyk. Dit is by dieselfde kruising waar ‘n groep van omtrent 150 mense vroeër deur die polisie met ‘n enkele skokgranaat uitmekaar gedryf is. Dit was hierdie aksie wat daartoe gelei het dat sekere besetters die strate van Pellissier ingevaar het.
LEES MEER: Grondbesetters en Rooimiere in Bloem raak slaags
Intussen het die ANC laat weet hy hou vanmiddag ‘n gemeenskapsvergadering in ‘n saal in Lourierpark. ‘n Man wat aan die hoof van een van Bloemfontein se beveiligingsgroepe staan, bestempel hierdie stap as uiters onverantwoordelik. Volgens hom kan vergaderings soos hierdie baie maklik in ‘n situasie verander waar aanhitsing tot geweld plaasvind.