Die omstrede e-tol stelsel in Gauteng word op 11 April, ‘n minuut voor middernag, gekanselleer. Lydia Sindisiwe Chikunga, die minister van vervoer, het ‘n kennisgewing in Donderdag se staatskoerant gepubliseer.
Maroela Media berig die infrastruktuur sal egter vir misdaadbekamping in plek bly. E-tol is in Desember 2013 ingestel om die skuld van die Gautengse hoofweg-verbeteringsprojek, of GFIP, te delg. Enoch Godongwana, minister van finansies, het egter reeds in 2022 die einde van e-tol aangekondig.
Dertig persent van die skuldlas sal glo deur die provinsiale regering betaal word en 70% deur die nasionale regering. Jacob Mamabolo, LUR vir finansies in Gauteng, het vroeër die maand gesê die nodige stappe sal gedoen word om die invordering van e-tolgeld te staak.