Eskom se skuldlas van R400 miljard gaan gedeeltelik deur die staat oorgeneem word.

Die tesourie het dit vanoggend bevestig toe hy gesê het hy sal na afloop van eerskomende Woensdagmiddag se begrotingsrede, oor die Eskom-skuldverligtingsooreenkoms rekenskap aan beleggers doen.

Netwerk24 berig hierdie stap kan staatskuld eensklaps met tot soveel as 264 miljard laat toeneem.

Staatskuld is tans die begrotings-item wat die vinnigste groei, en is die staat se tweede hoogste uitgawe.

Die presiese omvang en implikasies van die skuldoorname is onbekend.

Dawie Roodt, hoof-ekonoom van die Efficient-groep, meen dat hierdie stap vrugte sou kon afwerp, indien dit reg bestuur sou word en indien wérklike herstrukturering van Eskom sou plaasvind.

Terwyl Suid-Afrikaners van een beurtkrag-fase na die volgende in die donker rond tas, gaan dit die belastingbetaler nou nagenoeg R145 miljoen kos om die vier ministers wat by Eskom betrokke gaan wees, in hul poste te hou.

Die DA se Leon Schreiber het gesê, gegrond op die ministeriële handboek is ʼn minister geregtig op tientalle personeellede, luukse voertuie, BBP-beskerming én
gratis water en elektrisiteit.

Die DA betwis die ministeriële handboek se riglyne met ʼn klagte wat reeds by die Openbare Beskermer ingedien is.

Die bestuur van die land se energie-sake strek nou oor vier departemente heen.

Gwede Mantashe se minerale hulpbronne en energie, openbare ondernemings onder Pravin Gordhan, samewerkende regering en tradisionele sake met Nkosazana Dlamini-Zuma aan die stuur, en nou ook elektrisiteit, waarvoor ʼn minister nog aangewys moet word.

error: Inhoud is beskerm !!
×

Rosestad, Waar jy wil wees, trots in Afrikaans

×