Eskom het vanoggend aangekondig dat hy lasvermindering sal hervat. Beurtkrag bly egter opgeskort. Lasvermindering is wanneer krag afgeskakel word in woonbuurte waar onwettige verbindings oorlading veroorsaak en infrastruktuur beskadig, veral transformators.
Lasvermindering is bedoel om Eskom se infrastruktuur te beskerm deur elektrisiteitsverbruik gedurende spitstye te verminder. Eskom sê sowat 94% van die oorlaaide transformators in die land is te wyte aan elektrisiteitsdiefstal, insluitend onwettige verbindings, netwerktoerustingdiefstal, vandalisme, meteromleidings en peutery, ongemagtigde netwerkbedrywighede en die aankoop van elektrisiteit van onwettige verkopers.