Eskom het glo doelbewus dringendheid geskep, sodat hulle ‘n R500-miljoen kontrak aan Fidelity Security Services kon toeken.
Dit is luidens inligting wat die Spesiale Ondersoekeenheid aan die Parlement se Staande Komitee oor Openbare Rekeninge (SCOPA) deurgegee het.
Eyewitness News berig die eenheid het bevind dat dit in 2022 gebeur het – glo om kragstasies te beskerm.
Eskom het glo noodsituasies tot sewe dae vooruit verklaar, terwyl ‘n noodsituasie net binne 48 uur plaasvind.
SIU ondersoek ook die verband tussen die kontrak en ‘n intelligensieverslag deur die maatskappy van die voormalige polisiekommissaris, George Fivaz, wat beweer het dat Eskom-stasies onder bedreiging was.
Vyf werknemers is vir dissiplinêre optrede verwys, terwyl drie sake na die Nasionale Vervolgingsgesag gestuur is. Een saak word voorberei vir siviele litigasie om die kontrak ter syde te stel.