Eskom het die kabinet verseker dat die huidige implementering van hoër fases van beurtkrag net oor die kort termyn sal wees. Die kragentiteit het Suid-Afrikaners gewaarsku om elektrisiteit spaarsaam te gebruik weens die stygende vraag gedurende spitstye nadat ‘n koue front die land vroeër die week getref het. Dit is die terugvoering wat die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, oor gister se kabinetsvergadering gegee het. Intussen sê Eskom kragverbruik was gisteraand op sy hoogste. Dit is weens die groot vraag na krag weens ‘n kouefront wat oor groot dele van die land beweeg. Fase Ses beurtkrag is reeds vroeër die week onbepaald ingestel. Die woordvoerder sê Eskom het vroeër gewaarsku dat hoër fases beurtkrag ingestel kan word, omdat sowat 33 duisend megawatt krag gister gebruik is. Die hoogste verbruik was tussen vyfuur gistermiddag en 9-uur gisteraand. Eskom sê buiten beurtkrag kom onbeplande onderbrekings ook voor.