Die Suid-Afrikaanse regering sê om skole, hospitale en ander kritieke openbare fasiliteite van beurtkrag vry te stel, is nie moontlik nie. Die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria het verlede jaar ‘n landmerkbeslissing gemaak dat die regering redelike stappe moet neem om te verseker dat kritieke openbare fasiliteite van beurtkrag vrygestel word.
Die hof het bevind dat beurtkrag by hierdie fasiliteite ongrondwetlik was. Dieselfde hof het vandag argumente van die regering en Eskom aangehoor oor hul aansoek om verlof om teen die besluit te appelleer. Regter Norman Davis het die regering geroskam deur te vra hoe dit moontlik is om appél aan te teken teen ‘n uitspraak wat sterftes by hospitale en ‘n onderbreking van voedingsprogramme by skole wil voorkom. Die hof het uitspraak voorbehou.