Eskom sê ‘n wyd-gedeelde WhatsApp-stemnota, wat beweer dat beurtkrag aan ‘n onbetaalde verskaffer van swaar brandstofolie te wyte is, is fopnuus.
Volgens News24 het die Afrikaanse stemnota die eerste keer in 2019 opgeduik en Eskom sê dit is nie nou waar nie en dit was ook nie toe nie.
Dit verskyn glo gereeld wanneer Suid-Afrika kragonderbrekings teëkom en dit beweer ‘n verskaffer weerhou brandstofolie-aflewerings van Eskom tot die R500-miljoen wat hy na bewering verskuldig is, betaal is.
Eskom gebruik brandstofolie om steenkoolaangedrewe ketels in sommige kragstasies te begin, soortgelyk aan hoe vuuraanstekers gebruik word om ‘n braai te begin.
Die brandstofolie word ná ‘n kragonderbreking by die aanskakelfase verbrand om die ketels aan die gang te kry voordat die steenkool ingebring word.