Twee stoetverse is teruggevind nadat die provinsiale bestuurder van die Federasie van Suid-Afrikaanse Skoolbeheerliggame (Fedsas) die gesteelde verse self by ʼn veiling gaan uitsnuffel het.
Maroela Media berig Fedsas se uitvoerende hoof skerts dat almal nou weet wie om te bel as die kalf in die put is. Die Droughtmaster-verse is glo al in Januarie by ‘n landbouskool in KwaZulu-Natal gesteel.
Die skool het inligting bekom dat die vee op ʼn openbare veiling in die omgewing verkoop sou word. Fedsas se bestuurder in KwaZulu Natal, Hetta Müller, het fotos van die verse by die veekrale geneem wat positief deur die skool geindentifiseer is.
Sy het toe dadelik al die inligting aan die polisie oorgee, wat die verse as bewysstukke gekonfeskeer het. Drie verdagtes is sedertdien in hegtenis geneem.