‘n Jong meisie is uit die modder gered 60 ure na ‘n grondstorting in die Filippyne.
Minstens elf mense is dood en meer as honderd word nog vermis nadat die grondstorting Dinsdagnag na swaar reën ‘n myndorp getref het. Reddingswerkers gebruik grawe en hulle hande om deur die puin te soek na diegene wat nog vermis word, en reddingspogings word deur verdere swaar reën belemmer.
Reddingswerkers sê die kind is in ‘n bestendige toestand, wat hoop laat ontstaan het dat nog oorlewendes gevind kan word. Verskeie huise, en busse wat mynwerkers vervoer, is onder die modder begrawe.