Daar is ’n sterk moontlikheid dat FlySafair se internasionale vlugte vanaf 29 November gegrond kan word as hul alternatiewe planne nie realiseer nie.
Volgens News24 het die hoofbemarkingsbeampte van FlySafair, Kirby Gordon, egter gesê dat die publiek nie bekommerd moet wees nie.
Alhoewel die Internasionale Lugdienslisensieraad beoog om sanksies teen die lugredery aan te kondig ná bevindinge dat die aandeelhoudingstruktuur nie voldoen nie, het die maatskappy ’n dringende interdik teen die beslissing ingedien, wat op 26 November aangehoor sal word.
Gordon voeg by dat FlySafair verskeie planne in plek het om passasiers te ondersteun in die onwaarskynlike geval van onmiddellike opskorting. Hy het ook bevestig dat hulle, ingevolge die Verbruikersbeskermingswet, passasiers sal vergoed as ’n alternatiewe diens nie aangebied kan word nie.