FORMULE EEN – Ferrari se ster renjaer Charles Leclerc het die voorreg gehad om op Valentynsdag diè span se splinternuwe SF23-renmotor op die Fiorano-renbaan vir ’n toetsrit te neem en die liefde het sommer dadelik tussen diè tweetjies geblom.
Ferrari se nuwe spanbaas Frederic Vasseur het LeClerc en spanmaat Carlos Sainz letterlik ’n muntstuk in die lug laat opskiet om te sien wie eerste agter die rooi en swart vuurwa se stuur sou kon inskuif waar Leclerc natuurlik reg geroep het.
Leclerc – wat laasjaar tweede in die wêreldkampioenskap geëindig het – het 2 rondes kans gekry om die renmotor se werkverrigting om die baan te toets en ook terugvoering aan die Ferrari ingenieurs te verskaf waarna Sainz ook sy beurt gekry het en kon 3 rondes om die baan aflê.
Ferrari sal probeer om weer die rekordboeke te herskryf nadat die span in 2008 laas die vervaardigerskroon kon wen.
Die Formule Een-seisoen begin op 5 Maart met die Bahreinse Grand Prix.