Minister Gayton McKenzie onderneem om sy hele salaris, vir die volle duur van sy vyf-jaar ampstermyn, aan die Joshlin Smith-stigting te skenk. Die pas ingehuldigde minister van sport, en ook leier van die Patriotic Alliance, word met R2,68 miljoen per jaar vergoed vir sy diens in die kabinet. Volgens McKenzie staan hy in die politiek om mense te help, en nié om homself te verryk nie.
In Maartmaand het hy ‘n R1-miljoen-beloning uitgeloof, in ‘n poging om die 6-jarige Joshlin Smith van Saldanhabaai veilig tuis te help besorg. Joshlin se ma, Kelly Smith, haar vriend, Jacquen ‘Boeta’ Appolis, asook Stevano van Rhyn, en Lourentia Lombaard word onder meer aangekla van mensehandel en ontvoering. IOL berig die staat voer aan dat klein Joshlin vir R20 000 verkoop is.
Die Joshlin Smith-stigting beywer hom vir die veiligheid van kinders, en die bekamping van geslagsgebaseerde geweld. Joshlin word sedert 19 Februarie vermis.