As ses lede van EFF se topstruktuur nie vanaand die staatsrede mag bywoon nie, sal niemand in die party dit bywoon nie.

Die party, onder leiding van Julius Malema, sê nou in ‘n verklaring die hof se beslissing verteenwoordig ‘n onderdrukking van demokrasie en grondwetlike verantwoordbaarheid, omdat dit parlementselede verhoed om hulle grondwetlike pligte uit te voer. Die party sê gevolglik sal geen van sy lede die staatsrede vanaand bywoon nie.

Dit kom soos die party se laaste poging om te probeer verseker dat ses van sy parlementslede die verrigtingte vanaand mag bywoon, vanoggend deur ‘n volbank regters in die hooggeregshof in Kaapstad met koste van die hand gewys. SABC-nuus berig die party sê die hof se beslissing is ondemokraties en ongrondwetlik, en sinspeel verder daarop dat die howe deur die ANC gekaap is.

Intussen is veiligheidsmaatreëls by die stadsaal in Kaapstad verskerp om toe te sien dat die ses geskorste EFF lede, onder wie die leier Julius Malema, nie by vanaand se staatsrede opdaag nie.

Malema, Floyd Shivambu, Mbuyiseni Ndlozi, Marshall Dlamini, Vuyani Pambo en Sinawo Thambo is vir die maand van Februarie as parlementsrede geskors nadat hulle verlede jaar se staatsrede ontwrig het. Die parlementêre reëls is sedertdien aangepas.

SABC-nuus berig verder dat, volgens Malema, is dit spesifiek vir die EFF verander om te voorkom dat lede van die party ordepunte aanvra tydens die staatsrede. President Cyril Ramaphosa lewer vanaand om seweuur sy Staatsrede in die stadsaal in Kaapstad.

error: Inhoud is beskerm !!
×

Rosestad, Waar jy wil wees, trots in Afrikaans

×