Die kans is groot dat die geldigheidstydperk van die nuwe bestuurslisensiekaart vir Suid-Afrikaanse motoriste van vyf tot agt jaar verleng sal word. Die besluit is egter steeds onderhewig aan goedkeuring deur die kabinet. Die minister van Vervoer, Sindisiwe Chikunga, sê die besluit om die geldigheidstydperk te verleng is gegrond op ‘n ondersoek wat deur die voormalige minister van Vervoer, Fikile Mbalula aangevra is om internasionale neigings in hierdie verband te bepaal. Rosestad Nuus het vroeër berig dat die nuwe bestuurslisensie-slim kaart met unieke veiligheidseienskappe waarskynlik volgende jaar in gebruik geneem sal word.
