Gemoedere loop al hoër oor die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette, of Bela-wetsontwerp, soos dit alom bekend staan.
Die Vereniging vir Tuisonderrig en die Gautengse Vereniging vir Tuisonderrig is van die jongste instansies wat hul stemme hieroor dik gemaak het.
Volgens hulle het ouers geen toestemming nodig om hul kinders tuis te onderrig nie, en kan die staat hulle ook nie hieromtrent voorskryf nie.
Media24 berig dié twee instansies het gister deur mondelinge insette aan LP’s gesê die Bela-wetsontwerp gee te veel mag aan die staat wat tuisonderrig betref.
Dit was dan nou ook die laaste mondelinge insette wat aangehoor is alvorens openbare sittings oor die Bela-wetsontwerp sal begin.
Die grootste omstredenheid rakende die wetsontwerp handel oor die mag van die staat wat deur die wetgewing uitgebrei sal word oor die beheer van die taal-en toelatingsbeleid van skole.