Die ontvoerde Suid-Afrikaanse paramedikus, Gerco van Deventer, is na ses jaar in aanhouding veilig terug by die huis in Swellendam waar hy Kersfees met sy familie spandeer het. Sy vrou Shereen het dit gister bevestig en gesê sy onmiddellike familie was die laaste paar dae by hom. Sy het gesê hy kry mediese ondersteuning en dit gaan fisies en geestelik goed met hom. Sy vrylating is verlede Sondag bekendgemaak. Shereen het in ‘n verklaring hul opregte dank aan die Algeriese regering betuig asook die rol wat Suid-Afrika se Staatsveiligheidsagentskap gespeel het. Hulle is ook dankbaar vir alles wat Gift of the Givers gedoen het om hom terug by die huis te kry. Die familie het vir privaatheid gevra en sal later ‘n mediakonferensie hou. Gerco is op 3 November 2017 in Libië ontvoer kort nadat hy daar vir werk aangekom het. Hy is later aan ‘n tak van Al-Kaïda verkoop. Sy losprys was 500-duisend dollar.