Rudi Gericke, wie skuldig bevind is aan die moord op die 28-jarige boer, Evan Sorour, word na verwagting môre in die rondgaandehof in Ficksburg gevonnis.
Volgens Netwerk24 se verslag oor vandag se vonnisverrigtinge, voer die staat aan dat Gericke geen berou toon nie, en ook nie verantwoordelikheid vir sy dade wil neem nie. Gericke sê hy glo Evan sou vandag nog geleef het, was dit nie vir die oorledene se pa, Reuter Sorour, wat sy seun glo aangehits het om te skiet nie.
Evan is op 8 Januarie verlede jaar in die Ficksburg-distrik doodgeskiet, en sy pa is in dieselfde voorval ernstig aangerand. Die skietery het plaasgevind toe die Sorours na
bewering beeste wou gaan aankeer het, wat moontlik as gevolg van ‘n onklaar heining, op ‘n aangrensende plaas beland het.