Groot ongelukkigheid heers by die Laerskool Truida Kestell in Bethlehem omdat die geskorste hoof, Wium Uys, terug is op kantoor nadat die Vrystaatse departement van onderwys sy tussentydse skorsing opgehef het.
Uys is in Februarie geskors op aanklagte van seksuele teistering en aanranding van manlike en vroulike onderwysers, intimidasie, en dat hy die naam van die skool en onderwysdepartement in oneer gebring het.
Uitspraak word nog afgewag op die klagte dat hy weens drankmisbruik op ‘n skooltoer die skool in oneer gebring het.
Getuienis is op ‘n klag van seksuele teistering van ‘n onderwyseres gelewer en uitspraak word ook hierop afgewag, berig Netwerk 24.
Minstens 12 personeellede het in sy dissiplinêre verhoor teen Uys getuig.
Die onderwys-departement het gesê hy wag nou op die voorsittende beampte se beslissing.