Twee gewapende mans het Woensdagaand die Therapea Volle Evangelie kerk in Fichardtpark binnegestorm en ses jongmense wat met ‘n orkesoefening en jeugaksies besig was, beroof. Franko van der Vlies van die jeuggroep, Herleef, het gister aan Netwerk 24 vertel die rowers het met balaklavas ingestorm en ‘n pistool in die lug gehou. Van die jongmense het probeer weghardloop en is deur die rowers agternagesit. Een aanvaller het uit die bidkamer gekom en Melanie van Niekerk by die klankstasie agter die kop geslaan. Die mense is gevra om hulle selfone te oorhandig asook ‘n skootrekenaar. Die twee mans het in ‘n wagtende voertuig gespring en weggejaag. Alles is op kringtelevisiekamera’s van die buurtwag vasgelê en aan die polisie oorhandig. Bestuurder van die Fichardtpark Woonbuurtvereniging, Jacques Meiring, het gesê mense wat na-ure by kerke en ander openbare plekke vergadering hou, moet waaksaam wees.