GHOLF – Met die eerste dag van die DP World-kampioenskap wat op die Jumeriah-landgoed op die Earth-gholfbaan afgeslaan het is Engeland se Matt Fitzpatrick en Tyrrell Hatton die eerste ronde voorlopers met tellings van 7-houe-minder-as-baansyfer.
Diè tweemanskap het baie bestendig vertoon met veral Fitzpatrick wat uitgeblink het met voëltjies op die voorste 5 putjies waar die 2022 Amerikaanse Ope kampioen ook sy ronde sonder ‘n brouhou kon afsluit.
Hatton aan die anderkant het weer geskitter oor die laaste 9 en sou ook die alleen-voorloper met sy oornagtelling gewees het as dit nie was vir ‘n brouhou op die laaste putjie nie.
Alex Noren van Swede is 3de op 6-onder-baansyfer en word gevolg deur die Spanjaard Adri Arnaus wat net een hou verder terug is. Die 2022 Nedbank-uitdaagtoernooi wenner Tommy Fleetwood is saam met 4 ander spelers ook op 4-beter-as-die-baansyfer terwyl die voorloper op die DP World-puntelys Rory McIlroy ‘n wisselvallige dag beleef het met vyf voëltjies en vier brouhoue vir ‘n telling van 71 1-minder-as-baansyfer.
Diè toernooi duur tot Sondag.