Die wêreld nommer een, Scottie Scheffler, het die PGA Toernooi-rekord se laagste telling oor 72-putjies geëwenaar nadat hy Sondag die CJ Cup Byron Nelson-toernooi in Texas gewen het.
Die Amerikaanse Scheffler het -31 gespeel vir ‘n groottotaal van 253 en agt houe voor Suid-Afrika se Erik van Rooyen geëindig. Scheffler se landgenoot Sam Stevens het in die derde plek klaargemaak op 20-onder-syfer.
Scheffler het na afloop van sy oorwinning gesê dat hy tevrede is met sy algemene spel en goeie momentum wil behou wanneer die PGA Kampioenskaps-toernooi tussen 15 en 18 Mei op die Quail Hollow buiteklub in Charlotte, Noord-Carolina gespeel word.