Sedert dit vandag bekend geword het dat die Klerkdorpse moordverdagte, Wernich Botha, kort ná sy laaste hofverskyning landuit is, gons sosiale media oor die moontlikheid dat hy voortvlugtig is.

Hierdie gissings is egter ‘n kort rukkie gelede besweer.

Die 33-jarige Botha se prokureur, Kobus Burger, het laatmiddag aan netwerk24 gesê sy kliënt sal terug in die land wees vir sy verhoor.

Rosestad het op 20 September oor die 32-jarige Hilton Pretorius se afsterwe berig.

Pretorius het aan kopbeserings beswyk wat hy 18 dae vantevore glo in ‘n skermitseling in ‘n parkeerterrein in Klerksdorp opgedoen het.

Die klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer, is met sy afsterwe na ‘n moordklag teen Botha verander.

Botha is skynbaar weens werksverpligtinge in Somalië.

Sy borgtogvoorwaardes behels slegs dat hy nie met getuies mag inmeng nie, en dat hy vir sy verhoor moet opdaag.

Botha het homself ongeveer ‘n week na die parkeerterrein-voorval aan die polisie oorgegee.

error: Inhoud is beskerm !!
×

Rosestad, Waar jy wil wees, trots in Afrikaans

×