Die Minister van Finansies, Enoch Godongwana, sal na verwagting sy hersiene 2025-begroting Woensdag aanbied.
Dit kom ná ‘n uitstel weens die verwerping van Februarie se begroting, onder meer weens ʼn omstrede 2-persentasiepunt-verhoging in BTW.
Volgens ’n berig deur Investec, is Suid-Afrika se staatskuld reeds 76% van die BBP, met skuldterugbetalings wat meer as 21% van belastinginkomste opeis.
Maroela Media voeg by dat verskeie ekonome, sakeleiers en burgeregtegroepe meen dat staatsbesteding en -vermorsing eerder besnoei moet word as om belastinginkomste te verhoog.
The Citizen berig dat, volgens die onafhanklike ekonoom Bonke Dumisa, die land sedert 2018 buite sy finansiële perke leef, met meer as R1 miljard per dag wat slegs aan rentebetalings gaan.
Die publikasie brei uit dat kenners ʼn kompromie oor die BTW-verhoging verwag, terwyl belasting op alkohol, tabak en brandstof moontlik sal styg. Salarisse, infrastruktuur en sosiale toelaes word volgens hulle as bestedingsprioriteite beskou.
Die begrotingsrede begin na verwagting Woensdag om14:00.