Die wanbestuur van riool veroorsaak ‘n bose kringloop wat ook die gehalte van drinkwater kan beïnvloed, se Marius de Vaal, Afriforum se raadgewer vir omgewingsake. De Vaal het gesê die groendruppel-verslag wat ook gister bekendgemaak is, dui op die verswakkende toestand van die land se 867 rioolafval-waterbehandelingswerke. Altesame 67,6% van munisipale rioolafval-waterbehandelingswerke val in die hoë- en kritieke-risiko-kategorieë. Dit beteken die aanlegte is nie instaat om rioolafvalwater tot aanvaarbare vlakke te behandel nie. Die 85% van rioolafval-waterbehandelingswerke wat nie voldoen aan mikrobiologiese beperkings nie, kan ‘n ernstige gesondheidsrisiko vir mense inhou as gevolg van die teenwoordigheid van patogeniese bakterieë in die uitvloeisel. Slegs 10% van dié werke voldoen aan chemiese standaarde. De Vaal het gesê die swak riool behandeling kan uiteindelik tot duurder drinkwater lei omdat dit al hoe duurder gaan word om water te suiwer. WaterCan, ‘n afdeling van Outa, het gesê wat nog meer kommerwekkend is, is dat die minister van waterwese en sanitasie, Senzo Mchunu, steeds weier om die waterprobleme in die land as ‘n krisis te beskou.