‘n Grondwetkenner, Lufuno Nevondwe, sê slegs ‘n hof kan keer dat die eerste sitting van die parlement byeengeroep word. Dit kom nadat die MK-party aan die hoofregter en parlement geskryf het vir die sitting om nie byeen te kom nie. Die hoofregter het aangekondig dat die eerste sitting van die Nasionale Vergadering Vrydagoggend sal plaasvind.
Dit sal begin met die beëdiging van lede, gevolg deur die verkiesing van die speaker, adjunk en president. Nevondwe verduidelik dat daar op hierdie stadium geen hofbevel is wat die eerste sitting interdikeer nie en die feit dat die MK-party die uitslag van die verkiesing uitdaag, beteken dus nie dat die eerste sitting van die parlement nie kan plaasvind nie.