Die storm wat Bloemfontein Sondagaand skuins na ses met gietende reën, hael en wind getref het, het grootskaalse verwoesting gesaai en het onder meer noodsaaklike kragtoevoer-infrastruktuur beskadig.
Die skade wat deur dié storm aangerig is, het tot gevolg dat groot gedeeltes van Bloemfontein steeds sedert Sondagaand sonder krag is.
Die omvang van die skade en die beskikbaarheid van spanne om die skade te herstel, is twee van die hooffaktore wat daartoe bydra dat kragtoevoer nog nie na alle gedeeltes in en om die stad herstel is nie.
Indien alles volgens plan verloop, behoort kragtoevoer na alle areas wat hierdeur geraak word, teen die einde van vandag herstel te wees.