Boere het vroeër die week reuseskade gely weens haelstorms wat groot dele van die Noord- en Noordoos-Vrystaat getref het.
Netwerk24 berig haelstroms het by Welkom, Frankfort, Petrus Steyn, Reitz, Theunissen, Wesselsbron, Bultfontein en Brandfort uitgesak.
Somergraanboere wat vroeg geplant het, se aanplantings is nou daarmee heen.
JP du Toit, wie in die Welkom-omgewing boer, het gesê hy het nagenoeg 300 hektaar se sonneblom verloor.
Talle boere het weens deurdrenkte landerye, ná onlangse goeie reënneerslae, egter nog nie begin plant nie.
Terwyl daar nog tyd is om weer someraanplantings te doen, is dit die koringboere wat die hardste geslaan is.
Du Toit het gesê koringboere sou binnekort begin stroop, maar nou is daar niks.
In Brandfort, Riebeeckstad en Welkom, het huise en voertuie ook deurgeloop.
Van die haelkorrels was selfs groter as ‘n hoendereier.