Gauteng ondervind jaar na jaar probleme om plasings vir kinders in skole te kry, terwyl die provinsie se departement van onderwys die afgelope vyf-jaar ‘n half-miljard rand verkwis het aan halfklaar geboude skole waarvan die boupersele al vir jare verlate staan. Duisende leerlinge sukkel jaarliks om plek in skole te kry. Volgens inligting wat in die Gautengse wetgewer bekend gemaak is, het die Gautengse departement van onderwys reeds tussen R450 miljoen en R500 miljoen gehoes om nuwe skole te bou of bestaande skole op te knap – maar die projekte is nooit afgehandel nie. Maroela media berig die projekte is spesifiek in digbevolkte gebiede soos Roodepoort, Vereeniging en Midrand. Die DA se woordvoerder vir onderwys in Gauteng, Khume Ramulifho, het gesê dit is sowat 20 onvoltooide skole. Die opknapping van minstens 10 skole is gestaak. Hy het gesê onbevoegde kontrakteurs word aangestel en vat midde-in die projek die pad. Dit is weens wanbestuur en onbevoegdheid dat duisende kinders in oorvol klaskamers moet skoolgaan, het Ramulifho. Anton Alberts van die VF Plus het gesê kontrakte wat toegeken word, is dikwels die kontrakteurs wat geld aan die ANC gee.
