‘n Helikopter met noodvoorraad is na die Cango Mountain Resort buite Oudtshoorn ontplooi vir ‘n groep van 72 leerlinge en tien volwassenes van die
Laerskool Aliwal-Noord in die Klein-Karoo wat by die oord vasgekeer is weens oorstromings in die gebied.
Die groep is van die buitewêreld afgesny nadat die Le Roux-rivier wat deur die oord vloei sy oewers oorstroom het. Die owerheid sê die groep sal waarskynlik vandag (Woensdag) weer die rivier kan oorsteek wanneer die watevlak volgens aanduidings beduidend laer behoort te wees.
Die Meiringspoort-pas is egter nog gesluit weens oorstromings en motoriste word aangeraai om alternatiewe roetes te volg.
Intussen het die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, gesê Eskom gaan gebiede wat die naweek onder die storms deurgeloop het, van beurtkrag uitsluit en prioriteit verskaf aan die voorsiening van elektrisiteit aan dié gemeenskappe.
Hy sê die res van die lading sal oor die land versprei word. Oorstromings en hewige storms het talle gebiede in die Wes- en Oos-Kaap getref en duisende mense dakloos gelaat. Elektriese infrastruktuur is ook weens die oorstromings beskadig.