Die gemors, vuilgoed en stank by die Hertzogplein in die middestad in Bloemfontein waar metro amptenare en raadslede daagliks verbyry, laat inwoners van die eens pragtige Rosestad sonder woorde. Volksblad berig die plein wat geleë is naby die Vierde Raadsaal, oorkant die Nasionale Museum en naby die glaspaleis, het ‘n smerige en stinkende hoop vullis geword. Die visdamme wat eens op ‘n tyd spuitfonteine was, is nou ‘n rommelhoop van vuilgoed. Die openbare toilette by die plein is pikswart verbrand deur hawelose mense wat daarin bly en vuur maak. Dit is byna onmoontlik om asem te haal van die reuk van unrine, menslike ontlasting en verrotte vullis wat in die lug hang. Uit ‘n gebreekte waterpyp spuit daagliks duisende liters water. Dit is maar ‘n klein deeltjie van die meer as R400 miljoen se drinkwater wat in die afgelope boekjaar in die Mangaung-metro verlore gegaan het. Die res van die middestad lyk nie veel beter in die omgewing van Hoffmanplein nie. DA en VF Plus lede het net hulle koppe geskud en gesê hulle sal weer pogings aanwend om die stukkende waterpyp aan te meld en te vra dat die vullis verwyder word. ‘n DA-raadslid het vroeër gesê daar is meer as 1100 waterlekke en gebarste waterpype in die stad.