Die South African National Civic Organisation, (Sanco) se dringende aansoek om ‘n uitsettingsbevel teen onwettige grondbesetters in Lourierpark te betwis, is in die hooggeregshof in Bloemfontein van die hand gewys.
Benewens sy ongelukkigheid oor die uitsettingsbevel, dring Sanco nou ook daarop aan dat alle grondbesetters wat sedert verlede naweek in hegtenis geneem is, vrygelaat moet word. Sanco was eerste om die Mangaungse burgemeester geluk te wens, toe duisende mense verlede Saterdag gestroom het na ‘n oop stuk grond wat aan die metro behoort.
Die organisasie het dit bestempel as ‘n oorwinning vir die gemeenskap, en het die burgemeester daarvoor bedank dat hy die gebied spoedig van dienste sal voorsien. ‘n Tussentydse uitsettingsbevel is verlede Saterdagmiddag in die hooggeregshof bekom.