Die onafhanklike verkiesings kommissie het in hofstukke gewaarsku dat die verkiesingsdatum kan verander as die kontitusionele hof in guns van drie partye beslis wat vra dat die verkiesingsrooster aangepas moet word. Die Labour Party, ACT-party van Ace Magashule en African Alliance of Social democrats het die hof gevra om die OVK te beveel om sy aanlynportaal weer oop te stel sodat die drie partye hulle kandidatelyste kan indien. Netwerk24 berig dat die kieshof in Maart die partye se aansoek van die hand gewys het waarna die partye die konstitusionele hof genader het. Die partye beweer dat hulle nie aanlyn hul kandidatelyste teen die spertyd kon indien nie omdat daar, volgens hulle, fout was met die OVK se stelsels. Die OVK sê op sy beurt dat die betrokke partye tot op die nipper gewag het om hulle lyste in te dien, en dat daar niks fout was met sy stelsels nie. Die saak word vandag aangehoor.