HOKKIE – Suid-Afrika se mans hokkiespan het ook gewys dat hulle saam met die bestes in die wêreld kan gesels toe hulle Ierland ook met 4 – 3 laat les opsê het in die Internasionale Hokkie Federasie se Nasiebeker-toernooi wat in Potchefstroom gespeel is.

Die Ama Stokke Stokke het vroeg die doelhok gevind toe die kaptein en uiteindelike Speler van-die-Toernooi Dayaan Cassiem met ’n kanonskoot die bal verby die Ierse doelwagter Fitzgerald gestuur het. Die Suid-Afrikaners het halftyd met 2 – 1 voorgeloop en die voorsprong met 2 gerek toe Tevin Kok met ’n parmantige skephou die bal oor Fitzgerald se skouer gelig het. Ierland het egter nie gaan lê nie en sake kort daarna gelyk getrek.

Met egter 10 minute se speeltyd oor het Suid-Afrika die bal in die middelveld gewen en met Dayaan oppad na die doelhok is die Iere gestraf omdat hulle obstruksie van agter af gepleeg het en die skeidsregter geen ander opsie gehad het as om ‘n strafhou aan die tuisspan toe te ken nie.

Mustaphaa Cassiem – jonger broer van Dayaan – het nader gestaan en Fitzgerald na lug laat gryp deur die bal netjies in die agterkant van die net te plaas om sodoende die Suid-Afrikaners hulle eerste titel te besorg het.

Die tuisspan het met hierdie oorwinning ook hulle deelname aan die Internasionale Hokkie Federasie se Pro Liga vir die 2023/24 seisoen verseker.

error: Inhoud is beskerm !!
×

Rosestad, Waar jy wil wees, trots in Afrikaans

×