Hy vind dit lagwekkend dat die Speaker, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, hom as bron uitkryt vir gerugte dat sy in hegtenis geneem is, en gisteroggend in die hof in Pretoria sou
verskyn. Bantu Holomisa, leier van die United Democratic Front, het pas aan Rosestad-nuus gesê hy het ongeveer agtuur gisteroggend op TV na NewsRoomAfrica gekyk, toe ‘n joernalis skynbaar berig het dat die Speaker, óp daardie oomblik, in ‘n polisiestasie was, én dat sy om ongeveer negeuur in die hof sou verskyn.
Holomisa begin ‘n eksklusiewe WhatsApp-boodskap aan Rosestad-nuus se Anna Pauw, met “HaaaHaaa,” – sommer met drie A’s ná elk van die twee H’s. Holomisa het kort ná die beeldsending ‘n inskrywing op “X” gemaak, om dit wat hy na bewering gehoor het, met die wêreld te deel. Die brokkie het soos ‘n wegholbrand oor die wêreld heen versprei. In Pretoria het talle joernaliste glo selfs by die hof gewag om verslag te doen met die Speakers se beweerde “verwagte verskyning”.
Die UDM-leier sluit sy ontspanne trant WhatsApp-boodskap af, deur te sê-vra dat hy seersekerlik nie die enigste mens kan wees wat na daardie beeldsending gekyk het nie.
‘n Ondersoek is tans onderweg na beweerde korrupsie tydens die Speaker se termyn as minister van verdediging. Sy word daarvan verdink dat sy omkoopgeld, wat glo miljoene rand beloop, van ‘n voormalige militêre kontrakteur ontvang het.