‘n Suid-Afrikaanse reddingspan, tesame met die Suid-Afrikaanse Polisiediens se K9-honde-eenheid en ‘n reddingspan van Oman, het gister ‘n 80-jarige vrou lewend in die puin in Turkye gevind.
Dit is nou reeds agt dae sedert ‘n reusagtige aardbewing van 7,8 op die Richterskaal met kragtige naskokke, gedeeltes van Turkye en Sirië geruk het.
Baie soek- en reddingspanne het reeds die fokus van reddingspogings na die opspoor van liggame verskuif.
Volgens een van die spanlede, dokter Qasim Bhorat, het hulle op talle lyke afgekom alvorens vyf honde van die K9-eenheid hulle na die bejaarde vrou gelei het.
Haar oorlewing is wonderbaarlik, aangesien sy vir 8 dae in ongenaakbare winterweer, in die puin vasgekeer was. Hoewel sy ontwater het, is haar toestand as redelik goed
bestempel.
Die dodetal wat steeds styg, het teen vanoggend op meer as 37 000 gestaan.