Hondediefstal is, volgens die Universitas Parkwes Buurtvereniging in Bloemfontein, aan die toeneem.
Hulle moedig inwoners aan om nie hul honde sonder toesig te los nie. Volgens ‘n kennisgewing op sosiale media hou diewe publieke areas vir geleenthede om honde te steel dop. Van die honde word selfs gegryp terwyl daar met hulle gestap word.
Verder sê die vereniging dat elke hond ‘n waarde het, hetsy vir herverkoop, om ‘n losprys te eis, teling of selfs as aas. Hulle raai die gemeenskap aan om honde nooit alleen buite te los nie, selfs nie op jou eie eiendom nie. Jong kinders moet ook nie alleen met honde gaan stap nie.
Dit is ook belangrik dat jou hond ‘n mikroskyfie het en dat die besonderhede op datum is.