Meer as 700 Knysna seeperdjies is Woensdag by die Lookout-strand in Plettenbergbaai verwyder nadat hulle vermoedelik weens die stormweer uitgespoel het. Petro van Rhyn van Cape Nature het aan Netwerk 24 gesê die veldwagters het teen laatmiddag reeds 702 seeperdjies verwyder. Sy het gesê die plan is om lewendige perdjies in ‘n houer met seewater te sit en later by die riviermond naby Milkwood Manor weer vry te laat. Van Rhyn het gesê die veldwagters sal vandag na nog gestrande seeperdjies soek en die noordelike sandgebied van die Keurbooms riviermond met ‘n boot deurkruis. In die Tuinroete kom seeperdjies veral voor in die Knysna-strandmeer, die Keurboomsrivier en naby Sedgefield.
