Mandisa Maya, wie Raymond Zondo as hoofregter sal opvolg, ontken bewerings van ‘n hegte band tussen haar en oudpresident Jacob Zuma. Die kantoor van die hoofregter skryf in ‘n verklaring die bewerings is onwaar. ʼn Berig deur Opera News beweer glo dat Maya en Zuma skynbaar ʼn baie hegte band het, en dat sy hom as ʼn broer, en ook ʼn pa vir haar kinders sien.
Luidens die verklaring het Maya nog nooit vir Zuma ontmoet, of enige kontak met die oudpresident gehad nie. Die kantoor eis dat Opera News die berig onttrek, en ook amptelik verskoning vra. Maya neem op 1 September die hoofregterleisels oor, en sal die eerste vrou wees om in dié amp te dien.