Versekeringskundiges het ‘n beroep op huiseienaars gedoen om hul eiendomme voldoende te verseker. Dit, aangesien uiterste weersomstandighede in Suid-Afrika steeds toeneem.
Hierdie erge weersomstandighede verhoog die risiko van skade aan eiendom.
King Price-versekeraars se kliënte-ervaring-vennoot, Wynand van Vuuren, sê vloede, droogtes, brande en storms in die land neem toe.
Hy sê weerlig, haelskade, windstorms en seevlakstygings kom ook meer gereeld as voorheen voor.
Van Vuuren moedig huiseienaars aan om hul eiendomme en besittings teen die gevolge van natuurrampe te beskerm.
Hy waarsku dat dit vir Suid-Afrikaners duurder gaan word om die koste van skade wat deur dié rampe veroorsaak word sonder versekering te dek.