Suid-Afrikaners betaal tans 42% meer aan hul paaiement vir ‘n tipiese huislening met ‘n 20-jaar terugbetalingstermyn vergeleke met November 2021. Paaiemente vir so ‘n huislening is boonop 15% hoër vergeleke met Januarie 2020 – kort voor die uirbreek van die Covid-19-pandemie.
Maroela Media berig hemelhoë rentekoerse het daartoe gelei dat R98 miljard se huislenings by die land se vier grootste banke, waaronder Standard Bank, al vir drie maande agterstallig is. Dit beteken dat 8,3% van alle lening tans as fase drie, of nie presterende lenings, geklassifiseer word. Die prima uitleenkoers het sedert November 2021 met 475 punte tot 11,75% gestyg. Ekonome is dit eens dat die hoë rentekoerse die afgelope twee jaar enorme druk plaas op verbruikers wat paaiemente vir huis-en voertuiglenings moet betaal.