Vandag se opening van die Parlement val saam met die geboortedag van wyle oudpresident Nelson Mandela. Die Presidensie sê dit is gepas om Madiba se lewe te vier, met ingang van Suid-Afrika se 7de administrasie sedert demokrasiewording.
Volgens die Presidensie moet elke Suid-Afrikaner help om die land uit te bou, om die ideaal te verwesenlik wat in 1994 in die vooruitsig gestel is. Internasionale Nelson Mandela-dag word vandag regoor die wêreld herdenk. Madiba is op 5 Desember 2013 in die ouderdom van 95 in Johannesburg oorlede.