’n Impala-straalvliegtuig het by die Weskus-lugskou voor meer as 2 000 toeskouers neergestort.

IOL berig dit het Saterdag die geleentheid skielik beëindig.

Die lugskou het Vrydag begin maar organiseerders het vroeër op Facebook gemeld dat die dagprogram moeilik was om te bevestig weens die kusgebied se onvoorspelbare weer.

Sterk winde en mis het voortdurende aanpassings vereis.

Daily Maverick berig die lugskou het eers ná 14:00 begin weens lae wolke en swak sigbaarheid.

Toeskouers het by die vliegveld buite Saldanha saamgetrek toe die Atlas Impala, ’n Suid-Afrikaanse straalafrigter en ligte aanvalsvliegtuig, neergestort het.

Sowetan LIVE voeg by die organiseerders van die West Coast Airshow het die toetsvlieënier, James O’Connell, as die vlieënier benoem wat Saterdag in Saldanha in die Impala neergestort het.

James O’Connell. FOTO: West Coast Saldanha Bay Vliegskou

Die vliegtuig het glo ‘n skielike hoogteverlies ervaar, wat tot die ongeluk gelei het.

Volgens West Coast Medical Rescue se eienaar, Elowayne Gouws, het die straalvliegtuig die grond getref en die vlieënier is op impak dood.

Nooddienste was binne twee minute op die toneel, maar die wrak was reeds in vlamme gehul.

’n Ondersoek is aan die gang, gelei deur die Suid-Afrikaanse burgerlugvaartowerheid en die Suid-Afrikaanse lugmag se ongelukseenheid.

Die organiseerders het nog nie ’n amptelike verklaring uitgereik nie.

error: Inhoud is beskerm !!