Die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, of VN, Antonio Guterres, het die VN se Veiligheidsraad formeel gewaarsku dat die oorlog in Gaza nou internasionale vrede en sekuriteit in gedrang bring. Hy het hom gewend tot Artikel 99 van die stigtingshandves van die VN om die Veiligheidsraad dringend te betrek. Dié klousule is dekades laas gebruik, het Stephane Dujarric, VN woordvoerder gesê. Volgens Reuters het Guterres aangedring op ‘n skietstilstand. Die verwagting is dat die raad Vrydag daaroor sal stem. Die Verenigde Arabiese Emirate het die konsepresolusie voorgelê wat die steun van Arabiese en die OIC-groep van Moslemlande het. Amerika en Israel is gekant teen ‘n skietstilstand omdat dit glo net tot voordeel van Hamas sal wees. Die vorige skietstilstad wat ‘n week gelede geëindig het, is nie verleng nie omdat Hamas glo geweier het om die laaste vroue en kinders wat hulle op 7 Oktober as gyselaars geneem het, vry te laat.