Amerika se ABC News het omstreeks kwart voor vier vanoggend, Suid-Afrikaanse tyd, berig dat Israeliese missiele ‘n ligging in Iran getref het. ‘n Iranese nuusagentskap het kort daarna berig ontploffings is by die sentrale lughawe in Isfahan gehoor. Die oorsaak van die ontploffings was nie bekend nie.
Iran het kort na vier-uur vlugte oor verskeie van sy stede opgeskort. Iran se lugverdedigingstesel in die Isfahan-provinsie is geaktiveer en alle vlugte by die Imam Khomeini-lughawe in Teheran is gekanselleer. Iran se staatstelevisie het berig geen van die land se kernaanlegte is beskadig nie.