Israel se weermag, of IDF, moet onbeperkte sekuriteits beheer oor Gaza hê na afloop van die oorlog, het Benjamin Netanyahu, premier van Israel gesê. Hy het gesê slegs die IDF kan verseker dat die Palestynse enklawe ‘n gedemilitariseerde gebied bly. Geen internasionale magte kan hiervoor verantwoordelik wees nie, het hy gesê. Sy kommentaar beklemtoon Israel se planne van ‘n hernieude besetting van Gaza, het Sky News berig. Die IDF het gister tot in die middel van die stad Chan Joenis in die suide van Gaza gevorder. Soldate op die grond is deur vegvliegtuie ondersteun. Die stad is ook omring, het die IDF gesê. Dit was die mees intense dag sedert die begin van die grond operasie, het genl Yaron Finkelman, bevelvoerder van die IDF in die suide van Gaza aan Reuters gesê.