Israel se grondmagte in die Gaza-strook se volgende doel is om die Hamas-militante se groot tonnelnetwerk onder die enklawe op te spoor en te vernietig. Dit is die volgende fase van die Israeliese offensief nadat Gazastad, die gebied se grootste nedersetting en Hamas se hoofvesting, nou omsingel is, berig Reuters. Israel het gesê sy troepe het na die hartjie van die stad gevorder terwyl Hamas gesê het sy vegters het groot verliese aan die invallende magte toegedien. Die woordvoerder van Israel se magte, Daniel Hagari, het gesê Israel gebruik Ingenieursploftoestelle om Hamas se tonnelnetwerk, wat oor honderde kilometers onder Gaza strek, te vernietig. Die minister van verdediging, Yoav Gallant, het gesê Israel het een teiken en dit is Hamas-terroriste in Gaza se infrastruktuur, hul bevelvoerders, bunkers en kommunikasiekamers.